Ons storie is nogal uniek........ ons was in ons eerste huwelike baie goeie huisvriende reeds vanaf 1971 en het nooit gedink ons sal eendag as ons ouer is bymekaar uitkom nie. Ons was albei reeds geskei toe ons een aand na 'n verjaarsdagparty genooi is, beide saam met ander vriende wat toe op die laaste nipper nie meer wou gaan nie. Hy het my toe gevra of ons nie saam na die funksie kan gaan aangesien ons albei alleen is. Dit was 'n wonderlike aand van baie lekker gesels en daarna het hy my en my jongste dogter wat by my gebly het uitgenooi om by hom en sy dogter te kom eet......dit het gelei tot heen en weer kuier en saam eet en ons het baie gou besef dat ons baie aangetrokke voel tot mekaar. Ek het hom toe op Valentynsdag uitgenooi aangesien dit skrikkeljaar was.
In Mei het hy my uitgenooi om saam hom, sy ma en sy suster met vakansie te gaan na die Kgalagadi wildreservaat. Dit was 'n heerlike vakansie en ons het daar besluit dat ons vir altyd saam wil wees.
My man was baie geliefd omdat hy so 'n wonderlike mens was.....'n ongeslypte diamant met soveel empatie en liefde vir almal met wie hy in aanraking gekom het. Almal was vir hom belangrik maak nie saak wat hulle stand, ras of kleur was nie. En dit was nie net ek wat so gese het nie.....al die kinders en kleinkinders was mal oor hom omdat hy alles gegee het te alle tye, altyd in almal se doen en late belanggestel het en sonder voorbehoud vir almal lief was. Ons dominee het met die begrafnis gese dat hy die karaktertrekke van Jesus het en dit is deur almal wat hom ken beaam.



No comments:
Post a Comment